Afrikaans : STIGTING & AGTERGROND
Judah Bedieninge is einde Oktober 1999 gestig. Die leier en stigter Pierre Toerien, het grootgeword in ‘n pinkster denominasie genaamd die AGS van SA, en homself in antwoord op die roeping van die Here tussen 1981 en 1983 as pastoor in die kerkgroep bekwaam. Sedertdien het hy tot in 1999 in verskeie AGS gemeentes gedien, die laaste een in Mosselbaai vanaf Oktober 1988 tot November 1999.
Gedurende die laaste paar jaar van sy tyd in die AGS het hy te doen gekry met die “profetiese” en “apostoliese”, in besonder deur die bediening van manne soos Frans du Plessis, Robert Munien e.a.
Die jaar 1999 verteenwoordig die kulminasie van die profetiese pad van destiny wat die Here met Pierre geloop het om hom in die huidige opset te kry. In 1997 het Frans du Plessis ‘n “Fire Conference” in Durban aangebied, met Kelley Varner van die VSA as hoofspreker. Daar het Pierre ook vir Robert Munien ontmoet.
In 1999 het Kelley Varner Suid-Afrika weer besoek en ‘n “profetiese” konferensie is deur die AGS in Hartenbos gehou waar hy bedien het. By hierdie geleentheid het hy tydens een diens bedien oor die verhaal van Simeon en Anna in die tempel, en juis die gebeurtenis toe hulle die Messias gesien en Simeon daarna vir Maria geprofeteer het.
Die strekking van die verhaal verdien om genoem te word want dit het groot betekenis vir die roeping en stigting van Judah Bedieninge. Toe Simeon vir Maria gesê het “’n swaard sal deur jou siel gaan” het Anna ingestap. Anna beteken genade en die kern van die boodskap was dit: wanneer die swaard in jou lewe begin werk, sal daar ook genade wees (Luk 2:34-38).
Toe Kelley Varner by hierdie punt kom, het hy na Pierre gedraai en geprofeteer: “Oor ses maande van nou af sal jy genade nodig hê”.
Kom ons blaai net eers ‘n bietjie terug om hierdie punt se gewigtigheid te verstaan:
Pierre het vanaf die dae van sy roeping ‘n verwagting gehad dat iets groot in sy lewe gaan gebeur wanneer hy die ouderdom van veertig bereik, aangesien veertig ‘n geslag verteenwoordig. Dit was asof hy die verwagting gehad het dat daar op veertig iets soos ‘n ingryping van die Here of rigtingaanpassing in sy lewe en bediening gaan kom. Hy het dit dikwels ook met sy gemeente en met vriende gedeel.
Kom ons kyk nou waar trek ons ten opsigte van die kalender:
Hierdie konferensie van Kelley was vanaf 1 tot 3 Februarie 1999 en Pierre se veertigste verjaardag was (sou toe nog wees) op die 30ste Julie 1999 – presies ses maande verder.
Noudat ‘n mens terugkyk sien jy dit – die verwagting van die 40ste verjaardag en die profetiese woord van die genade oor ses maande sou een samevloeiing wees. Die “iets groot” van die 40ste verjaardag, of wat dit ookal sou wees, sou dus baie genade nodig hê.
Gedurende April 1999 het die gemeente ook ‘n apostoliese konferensie aangebied met Robert Munien as die hoofspreker, bygestaan deur Frans du Plessis en twee persone van die VSA. Een van hulle was Eugene Strite, wat later nog baie inspraak in Pierre se lewe asook in die gemeente sou hê.
Met die vertrek van Eugene vanaf die George lughawe het hy vir Pierre ‘n boek van Mark Hanby gegee met die titel: “You have not many fathers”. Die volle verhaal van hoe hy op hierdie boek in sy bagasie afgekom het, is te lank vir hierdie leesstuk, maar as dit vertel word kan ‘n mens nie anders as om te sien dat dit absoluut deur die Here se toedoen was nie
Die bg boek was ‘n lewensveranderende moment in Pierre se lewe en hy het besef daar is ‘n nuwe pad vir die kerk en dat die Here ‘n vars en nuwe manier van kerkstrukture wil skep of herstel wil sien. Die Here was reg om die wynsakke aan te spreek sodat die nuwe wyn behoue kon bly.
Ons sal meer hieroor sê onder ander opskrifte, maar die nuwe wyn is die denkwyse van die apostoliese, en die wynsak is Bybelse strukture wat hierdie nuwe denke moet kan akkommodeer.
Tydens die profetiese konferensie in Hartenbos het Kelley Varner nog iets vir Pierre gesê wat baie sou beteken in die toekomstige ontplooiing van sy bediening. Tydens een van sy preke het hy na Pierre gedraai en iets soos die volgende gesê: “God says you are a lion and you will roar.”
Namate Pierre hierdie dinge begin bedien het, het hy al hoe meer teëstand van ou gevestigde denkpatrone begin kry, en het die “rustigheid” van die bediening skielik nie meer so rustig gelyk nie. Die tekens dat die swaard aan die kom was, was al hoe duideliker. Gelukkig het die Here darem genade belowe vir die oomblik wat binnekort sou aanbreek.
Aan die einde van Julie 1999 daardie jaar is Pierre saam met twee van sy mense na ‘n konferensie in Nairobi, Kenya, oor die apostoliese reformasie. Die hoofspreker was iemand van Trinidad met die naam van Noel Woodroffe. Hy is die stigter en apostoliese leier van die World Breakthrough Network”, ‘n apostoliese netwerk met ‘n wêreldwye impak.
Deur die bediening van Noel Woodroffe, Robert Munien en ander sprekers het Pierre vir die eerste maal te doen gekry met die boodskap van die apostoliese reformasie, en ook begin besef dat die Here ernstig is oor sy kerk en sy voornemens op die aarde.
Hier het hy ook vir Thamo Naidoo leer ken; iemand wat later ‘n groot vriend en apostoliese vader van die gemeente sou word.
Iets in hierdie woord van die reformasie was soet en vervullend, en dit sou die kerk vorm van alles wat sou volg. Ons sal meer oor die woord van die apostoliese reformasie sê onder ander opskrifte op hierdie webblad.
Gedurende hierdie tyd wat Pierre in Kenia was, het Karin ‘n konferensie in Hartenbos bygewoon, waar Andrè van Zyl die spreker was. Die aand van 29 Julie (onthou die 40 ste verjaardag op 30 Julie!!) preek Andrè oor Naäman en die betrokke riviere in sy lewe, en tydens hierdie diens kom Karin onder die oortuiging van die Heilige Gees dat sy haar moet regmaak vir ‘n nuwe ding. Daardie aand net na twaalf (toe Pierre so pas veertig geword het!) bel sy hom (wakker) in Kenia en vertel hom van die aand se diens, en dat sy reg is om te gaan as die Here dit so sou wou hê. Die “gaan” is duidelik deur altwee verstaan as die uittog vanuit die kerkstrukture waarin hulle was na die nuwe ding toe wat die Here wou doen.
Min het sy geweet wat daardie vorige dag met Pierre gebeur het. Kom ons kyk na die verhaal van sy kant af. Die oggend van 29 Julie preek iemand met die naam van Tunde Bakare, ‘n godsman van Nigerië, en die tema van sy woord is “Locate, relocate or suffocate” en by daardie geleentheid kom Pierre tot die besef dat dit tyd geword het om los te maak en aan te stap na wat God nou vir hulle wou hê.
Die inspraak van die Here het dus vir Pierre en Karin gelyktydig gekom, ses maande na Kelley se profesie en op Pierre se 40ste verjaardag...
Pierre het hierdie woord en ervaring in sy hart gebêre en met die Here deurgepraat. Dinge het van hieraf aan vinnig ontwikkel en gedurende Oktober, tydens ‘n besoek aan Mark Hanby se dienste by Aldam, het hy en Karin net weer onder tot die besef gekom dat die tyd naby is om te gaan.
Tydens die oggenddiens op Sondag 24 Oktober 1999 het hy vir die gemeente gesê van sy voornemens en op Sondag 31 Oktober 1999 het die nuwe gemeente hul eerste diens gehou; presies nege maande na Kelley se profesie – die tyd tussen bevrugting en geboorte.
Die 31ste Oktober was die geboorte van ‘n nuwe ding wat God wou doen, en vandat Pierre begin besef het hy sal uiteindelik op sy eie gaan, was die naam Judah baie pertinent in sy hart. Hy het dan ook die “logo” van die leeu gekies.
Dit was interessant om later te besef dat 31 Oktober ook die dag was waarop die saad geplant was wat die groot hervorming van Martin Luther sou word.
As ‘n mens hierdie getuienis lees, kan jy sien dat die stigting van hierdie gemeente nie maar net “uit die … wil van die vlees of uit die wil van 'n man…” gebore is nie, maar werklik uit die hart en wil van God. Soos Pierre altyd sê: Judah is nie net sommer nog ‘n gemeente wat gestig is omdat hy sy eie gemeente wou hê of so-iets nie – Judah is ‘n planting van die Here en is nie primêr ‘n gemeente nie, maar eerstens ‘n beginsel in die Gees – mense wat draers is van ‘n mentaliteit om die werk klaar te maak – “a people who have a finishing anointing".